Die Boodskap vertaal Galasiërs 5:16-17 treffend mooi en eenvoudig:
“Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer.
Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê.
Dan sal die sonde julle nooit onderkry nie.
Onthou, sondige begeertes is ‘n vyand van die Helige Gees.
Maar die omgekeerde is ook waar:
die Heilige Gees is ‘n vyand van elke sondige begeerte.
Daarom kan julle nie die een dag aan julle sondige begeertes toegee,
en die volgende dag aan die kant van die Gees probeer staan nie.
Julle kan nie leef soos julle wil nie.”

Dit spreek so vanself!
Lees dit gerus weer ‘n keer.

Die Heilige Gees is ons Voorspraak. Die Heilige Gees lei ons,
as Voorspraak, in die waarheid en hoé om vir God te leef!
Die Here Jesus sê in Johannes 16: 7, net voor sy hemelvaart:
“Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan,
want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees,
nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.”
Wat sal die Heilige Gees as Voorspraak kom doen?
Jesus sê dit dan in Johannes 16:13:
“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid,
sal Hy julle in die hele waarheid lei.”
Daarom moet ons ons deur die Gees laat beheer.
Soos die Galasiërs teks hierbo sê:
Laat die Heilige Gees aan die stuur van sake staan,
van alles wat ons dink en sê en doen.

Ernest