Op ‘n dag het Jesus by ‘n tollenaar se huis verbygestap,
en ‘n verrassende ding gedoen.
Hy het hierdie tollenaar geroep om een van sy dissipels te word!
Om te verstaan hoe buitengewoon dit in die konteks van Jesus was,
moet ons verstaan wat die mense van Jesus se tyd oor tollenaars gedink het.
Toe Jesus op aarde was, was die tollenaars Joodse belastinggaarders gewees.
Hulle was onder die volk ‘n veragte groep.
Hulle het soveel geld by die tolpunte rondom die dorpe gehef,
op die produkte wat mense stede toe gebring het om te verkoop,
dat selfs die Joodse godsdienstige leiers gesê het
God het nie meer ‘n saak met hulle nie!
Mens kan dit bykans nie glo nie.

En nou kom Jesus, en roep een van hierdie tollenaars om Hom te volg!
Lukas 5:27:
“Daarna het Jesus uitgegaan en ‘n tollenaar met die naam Levi
by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.”
Jesus gebruik net twee woorde om Levi,
of Matteus soos ons hom ook ken, te roep: “Volg My”.
Net twee woorde wat Levi oortuig om sy besigheid te sluit, en Jesus te volg!
Dit was die twee belangrikste woorde wat Levi ooit in sy lewe gehoor het.
Dit het onherroeplik sy hele lewe verander.

Levi het as tollenaar ook soos die res gedink, dat sy kanse by God min of nul is.
Hy moes gedurig in sy lewe ervaar hoe die mense draaie om hom loop,
en hoe godsdienstiges hom met minagting behandel.
Maar toe, heel onverwags het Jesus self by sy lewe kom stilstaan: “Volg My”.
Levi het sekerlik al van Jesus gehoor, teen hierdie tyd. Mense het oor Hom gepraat.
Hy het dalk ook in die stilligheid gehoop om Hom eendag te sien, of raak te loop.
En nou gebeur iets ver bo sy verwagtings!

Presies so werk Jesus vandag nog.
Hy kom staan stil in jou lewe.
Hy kom nooi jou uit, roep jou, oortuig jou: “Volg My”.
En dan is alles vir altyd anders!
Jy lééf!
Leef vir Jesus!

Ernest