Levi se lewe het in ‘n oogwink verander toe Jesus by hom kom stilstaan het.
Met net twee woorde roep Hy hom: “Volg My”.
Daar het Levi se lewe onherroeplik verander, vir God en vir ander!
Levi het dadelik gesnap dat dit nou nie meer oor homself gaan nie,
maar oor die Here en ander!
Hy leef nou vir die Here, en tot seën van ander!
Daarom tree hy dadelik uit dankbaarheid op.
Wat doen hy?
Hy hou ‘n groot feesmaal!
Hy nooi al sy ou vriende daarheen,
om sy verlossing en nuwe lewe te kom vier!
En natuurlik is baie van hulle self ook tollenaars.
Hy wil met hulle sy getuienis deel.
Hulle kan dit ook deelagtig word!
Groot fees-etes was maar skaars omdat mense arm was.
Daarom versprei die nuus van hierdie ete soos ‘n veldbrand.
Almal het teen hierdie tyd gehoor dat Jesus vir Levi genooi het om Hom te volg.
Nou het Levi op sy beurt al sy tollenaarsvriende genooi,
om saam met Jesus te kom eet!
En Jesus eet saam met hulle!
Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was natuurlik op die plek geskok.
Lukas 5:30: “Die Fariseërs, en veral die Skrifgeleerdes onder hulle,
het by die dissipels gekla en gesê:
“Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”
Watter verrassing het hulle nie gekry nie, toe Jesus vir hulle antwoord,
dat Hy nie gekom het vir gesondes nie, maar wel vir die wat siek is in God se oë.
Jesus maak plek vir sondaars soos ons.
Hy het gekom vir mense wat besef dat hulle “tot die dood toe” siek is.
Vir ons kom sterf Jesus.
Hy is die hemelse Geneesheer.
Sy hemelse aanraking en genesing is genade!
Ernest