Jesus het die afstand tussen hemel en aarde vir ons kom oorbrug!
Jesus sê in Lukas 5:32:
“Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is,
tot bekering te roep nie, maar sondaars.”
Ons wat verlore was, totaal van God en hemel geskei was,
is deur Christus tot by God gebring!
God Self oorbrug in Christus die kloof tussen hemel en aarde.
Tussen God en sondaar mense.
Ons wêreld het drasties gekrimp.
Jare terug het mense al begin praat van ‘n “global village”.
Internet, SMSe, Watsap en ander tipe boodskappe,
bereik jou reg om die wêreld in millisekondes.
In 2011 was daar al ongeveer 8,5 biljoen webblaaie op internet,
duisend miljoen plus Twitter-volgelinge,
en meer as 900 miljoen nuwe foto’s op Facebook.
Die digitale wêreld het afstande van duisende kilometer as’t ware weggevee.
Maar een afstand kan die mens niks aan gedoen het nie.
Net Jesus Christus het, en kon die afstand tussen hemel en aarde oorbrug.
Daarmee het die Here die grootste afstand wat daar is,
vir ons wat in Hom glo, uitgewis!
Hy het die onoorbrugbare afstand tussen hemel en aarde oorbrug!
Net God kon dit doen.
En in sy liefde en genade het Hy dit in Christus gedoen.
Dit het met Levi gebeur toe die Here by hom gaan staan het.
Natuurlik kon Levi nie hierdie goeie nuus vir homself hou nie.
Wie kan dit vir homself hou as dit met jou gebeur?
Met sy feesmaal gee Levi sy eerste getuienis-tree.
Almal wat hy uitnooi stel hy voor aan Jesus.
Hy het nie eers nodig om hulle te probeer bekeer nie.
Hy skep net die kontak geleentheid tussen Jesus en sy ewe stukkende vriende.
Hy weet Jesus sal die res doen, soos dit met Hom gebeur het.
En so kry sy vriende, saam met Levi ‘n gratis genade-konneksie met die hemel,
met onbeperkte bandwydte kontak met God, in Christus, deur die Gees!
Loof die Here dat dit ook waar geword het in jou lewe!
Jesus het by jou gaan staan en gesê: “Volg My”.
En jy volg Hom!
Ernest