Al wat die sondige vrou in Lukas 7 aan Jesus kon bied,
was haar vermorste lewe en sondige en gebroke hart.
Maar dit is al wat nodig is om te besef, en te gee, vir hemelse genade en vrede.
In die geskokte Fariseër Simon se huis, breek God se genade vir hierdie vrou oop.
En sy ontvang al die seëninge van die Heilige Gees wat daar in die hemel is,
waarvan Efesiërs 1:3 praat.
Jesus praat nie veel met hierdie vrou nie, maar sê alles wat gesê kan word.
“Jou sondes is vergewe”, vers 48.
En: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede”, vers 50.

Simon, en ons, moet weereens besef:
Genade is nie iets wat jy kan verdien nie.
Veral nie met jou godsdiens nie.
Dit kom eenvoudig alles van God se kant af.
Altyd. Alles.
God doen letterlik alles van sy kant af.
En ons kan net totaal afhanklik van Hom daarin rus en vrede vind.
Let op dat Jesus vir die vrou sê dat sy “in vrede” moet gaan.

Om voor Jesus te verskyn met absoluut niks anders nie,
as jou stukkende en sondige lewe,
is om die hemelse genade van God te verstaan.
Dit is om letterlik alles van Hom te verwag.
In jou sterkste, en ook in jou mees weerlose oomblikke van jou lewe.
Dit is waar jou ware self ontmasker word voor die lewende God.
Dit is om sý woorde te hoor,
dat hemelse vrede deur Christus vir jou verwerf is.
En verniet aan jou geskenk word.
Maak nie saak wie en wat jy is nie!

Ernest