Paulus bid in Efesiërs 3:14-21 ‘n merkwaardige gebed,
onder leiding van die Heilige Gees, vir die Efesiërs.
Sonder gebed kan ons glad nie.
Hierdie gebed van Paulus is soos “trappe van seëninge” wat ons kan klim.

Maar voor jy die trappe kan klim, staan jy op die basis van alles, die “fondament”.
Verse 14-15, wat sê jy is familie van God:
“Daarom kniel ek in gebed voor die Vader,
aan Wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde
sy bestaan te danke het.”

Op die eerste trap lê die krag om uit te hou en aan te hou, vers 16:
“Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heelkiheid
aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word…”

Op die tweede trap lê geloof, om te verstaan wat God vir jou gedoen het,
en steeds doen - vers 17:
“…dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon,
en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.”

Op die derde trap lê begrip rondom hiérdie liefde van vers 17.
Om te verstaan hoé lief God jou het, en hoé jy ander moet liefhê.
Hierdie derde trap is vers 18:
“Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp
hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.”

Op die vierde trap lê die volheid van God, vers 19:
“Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan,
en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.”

Heel bo, die vyfde trap, is God, sodat ons nooit klein oor Hom sal dink nie!
Verse 20-21:
“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk,
magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,
aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus,
deur al die geslagte heen, tot in alle ewigheid. Amen.”

Hierdie gebed is een van die treffendste gebede in die Bybel.
Leer dit, soos jy die Ons Vader gebed ken, verpersoonlik dit vir jouself,
en bid dit gereeld onder leiding van die Heilige Gees!
Daarom sê Paulus in vers 16 “….ek bid dat Hy, deur sy Gees…”
Soos die Ons Vader gebed, sal ook hierdie gebed,
jou só baie laat groei in jou verhouding met die Here.

Ernest