Paulus bid in vers 17 van Efesiërs 3,
dat Christus deur die geloof in ons harte sal woon,
en dat ons in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
“So sal Christus deel van julle lewens word omdat julle op hom vertrou.
Julle lewens sal gebou wees op liefde. Deur ander met liefde te behandel,
sal julle lewens die vastigheid kry wat julle nodig het.”
Dikwels sukkel ons om God se boodskap te verstaan,
en sy teenwoordigheid deurgaans raak te leef,
omdat ons so min “met sy oë kyk”.
Ons is nie deurgaans in die liefde gewortel en gegrondves nie.
Daarom bid Paulus hiervoor vir die Efesiërs.
Wanneer ons nie in die liefde gewortel en gegrondves is nie,
is ons manier van kyk en leef baie beperkend en negatief.
Kyk byvoorbeeld hierna: GODISNOWHERE.
Het jy dit gelees as “God is nowhere”?
Of het jy dit gelees as: “God is now here”?
Soos ons verskillend kan sien, kan ons ook geestelik “verkeerd” sien!
Paulus sê as ons voete ferm geplaas is op die liefde van God,
wat hy in Jesus vir ons kom wys het,
sal ons Hom oral in die lewe raaksien, en as’t ware inleef waar Hy besig is.
Wanneer jy as kind van die Here in die liefde van God gewortel en gegrondves is,
dan dink, glo, en leef jy soos George MacDonald,
wat in ‘n gesprek met sy seun was oor Wie God is, en wat Hy doen.
“Dit klink te goed om waar te wees”, het sy seun vir hom gesê.
“My seun”, het George geantwoord,
“dit is so goed, dit moet en kán net waar wees!”
Die Here se liefde is allesomvattend en allesdeurdringend!
Wyd en ver en hoog en diep!
Dit duur jou hele lewe lank,
en dring deur tot jou diepste en hoogste vreugdes, en seer, en wanhoop!
Dit is wyd genoeg, en strek ver genoeg, om allesinsluitend te wees.
Ons kan nooit buite God se liefde wees nie!
En nou bid Paulus dat ons in hierdie waarheid sal lééf!
Ernest