Paulus gaan voort in sy gebed oor die liefde van God in Christus.
In Efesiërs 3:19 bid hy:
“Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan,
en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.”

Die Boodskap sê:
“Mag God julle lewens met sy teenwoordigheid oorspoel,
sodat daar nie ‘n stukkie van julle lewens is,
wat nie deur God se teenwoordigheid geraak word nie.”
Dit is merkwaardige woorde om te bid.
Woorde wat ons elke dag vir ons eie en ander se lewens moet bid.

“Live full lives, full in the fullness of God”, sê The Message.
Paulus bid dat God ons vol maak met die volheid van God.
Iemand het by geleentheid gebid:
“Lord, I can’t hold much, but I can overflow a lot.”
Mag die volheid van God oorloop uit ons lewens!
Die dogtertjie het vir haar ma gesê:
“Ma, as God so groot is, en ek so klein is,
en Hy bly in my, moet daar baie van Hom oorloop, nê!”

Mag ons Christus se liefde ken!
En mag ons daarin heeltemal vervul word met die volheid van God!
Mag sy teenwoordigheid ons lewens oorspoel!
Mag daar nie ‘n stukkie van ons lewens wees,
wat nie oorspoel word deur God nie!
En mag dit oorstroom uit ons lewens, na ander mense toe!
Oorvloedig, soos ‘n vloed!

Ernest