In die laaste deel van Paulus se gebed beklemtoon hy
hoé groot die God is waartoe ons bid!
Efesiërs 3:20-21:
“God is so magtig en sterk.
Juis met daardie krag werk Hy ook in ons.
Hy kan en het dinge vir ons gedoen,
waarvan ons nie eens kon droom nie.
Hy verdien daarom al die eer wat die kerk het om te gee,
veral as ons dink wat Christus Jesus vir ons gedoen het.
Almal moet Hom so eer, nou,
môre en tot in ewigheid. Mag dit so wees.”
Jaap Zijlstra het gebid:
“Vergewe my dat ek in drie letters GOD sê,
en dink dat ek U daarmee genoem het.”
God is oneindig groot en almagtig.
Hy verdien al ons lof!
Maar nou:
Die beste lof wat ons Hom kan bring,
is ons veranderde lewens in Christus.
Ons lewens onder beheer van die Heilige Gees!
Om iets van die grootheid van God se wese te leer ken,
is om iets vir Hom te wil doen, om voluit vir Hom te wil lééf!
Die lig wat Hy ons gee is nie maanlig om by te slaap nie,
maar sonlig om by te leef!...voluit te leef!
Om van hom te straal soos die son straal!
Dit is die grootste lof wat ons aan God kan bring,
‘n lewe van vreugde en dankbaarheid,
te midde en ten spyte van alles of enige iets!
Dit laat Lina Spies hierdie woorde aan ‘n kind skryf by sy doop:
“Bo alles wat ek vir jou wens, hoop ek dat jy ‘n Christen sal wees –
nie net in naam nie, maar in hart en siel,
sodat jy sal kan sê dat van alles wat jou gelukkig maak,
Christenwees vir jou die lekkerste is.
Om tot so ‘n uitspraak te kom moet ‘n mens baie vreugdes hê,
baie beleef, baie liefhê. Daarom wil ek dit nou nie anders sê nie:
Van alles is dit vir my vandag die lekkerste om ‘n Christen te wees.”
Kom ons bid gereeld hierdie gebed van Paulus in Efesiërs 3:14-21.
En kom ons gaan leef waarlik in die volheid van God!
Kom ons laat dit oorstroom na die wêreld en mense rondom ons!
Dit is lof aan God….gelééf!
Ernest