Dit is ‘n baie belangrike vraag. Waarom volg jy die Here?
Jy sien, twyfel is dikwels die resultaat van verkeerde
verwagtings wat ons van die Here het.
Wanneer ons Jesus nie volg volgens sý vereistes nie,
beland ons geloof baie gou in ‘n doodloopstraat.
Ons lees byvoorbeeld in Johannes 2 dat sommige mense
Jesus gevolg het bloot omdat Hy wonders doen.
Hy was juis daarom baie gewild,
en hulle wou daarom in sy teenwoordigheid wees.
Die Skrifgeleerde in Matteus 8 wil ook van die kollig steel en bied aan:
“Ek sal U volg waar U ookal gaan.”
Jesus het die skares en die Skrifgeleerde se ware motiewe geken.
Dat hulle Hom volg vir die byvoordele wat dit vir hulle inhou.
Daarom staan daar is Johannes 2:23-24:
“Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was,
het daar baie mense tot geloof in Hom gekom
toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen.
Maar hy het nie vertroue in hulle gestel nie,
omdat Hy geweet het hoe hulle almal is.”
Hierdie mense was nie bereid om die kruis op te neem en te volg nie.
So is dit ook vandag nog met baie “Christene”.
Hulle wil nie saam met die Here deur lyding ter wille van die koninkryk beur nie.
Hulle wil deel wees van ‘n bewonderaarsklub,
waar net applous gebring word as jy dit geniet.
Ons wil dikwels ‘n gemaklike Jesus dien wat ons nie uit ons gemaksone haal nie.
‘n Skouspelagtige Messias wat op aanvraag groot dinge doen.
Wanneer dit nie die geval is nie, begin ons twyfel.
Die resultaat van verkeerde verwagtings waarmee ons die Here volg.
Ons is teleurgesteld en ons geloof maak ‘n noodlanding!
Ons dink God het ons in die steek gelaat.
Ons kan nie, wanneer ons verkeerd glo, vir God die skuld gee nie.
Die belangrikste van alles in geloof is om Jesus onvoorwaardelik te volg.
Baie keer is dit moeilik en nie maanskyn en rose nie.
Ons moet eintlik glo “sonder byvoordele”!
Geloofsmoed oorkom twyfel.
Dit glo ten spyte van!
Ernest