“Ek is bekommerd dat my volgende besoek aan julle dalk
nie so goed sal afloop as wat ek hoop nie.
Ek is bang dat wanneer ek in Korinthe aankom,
ek sal agterkom dat julle nie leef soos volgelinge van Christus behoort te leef nie.
Ja, en miskien is julle dan ook teleurgesteld in my,
omdat ek nie voldoen aan julle verwagtings van hoe ‘n apostel moet optree nie.
Dan is al ons harde werk daarmee heen.
‘n Groot gestry, jaloesie, die een argument op die ander, verdeeltheid, ‘n rugstekery,
skinderveldtogte, hoogmoed en chaos sal dan die enigste gevolge
van so ‘n slegte ontmoeting tussen my en julle wees.
Ek is ook bang dat my God my daar voor julle almal in die verleentheid sal bring,
as ek van voor af ontsteld raak oor daardie mense wat aanhou om dieselfde sondes te doen,
..…..van al daardie vieslike onreinhede en seksuele sondes.” 2 Korintiërs 12:20-21.

Daar was Christene in Korinthe wat geleef het soos hulle wil.
Daarmee het hulle God se Naam in Korinthe deur die modder gesleep.
Paulus noem hier ‘n paar dinge wat sulke onchristelikhede was.
Dit is dinge wat Christene vandag nog doen,
en daarmee steeds God se Naam skade aandoen.

Kom ons ondersoek onsself aan die hand van dinge wat Paulus hier noem.
Ons stry so maklik omdat ons dink net ons is reg, ook oor hoe ons as Christene moet leef.
Ons is maklik jaloers op mekaar, selfs in terme van seëninge wat die “ander” ontvang.
Ons is dikwels besig met die een argument na die ander oor goed wat nie regtig in die kern staan nie.
So ontstaan daar verdeeltheid onder ons in plaas van eensgesindheid.
Rugstekery, en skinderveldtogte word dikwels by Christene opgemerk in beroepsituasies.
Onreinhede en seksuele losbandigheid in hoe ons dink en praat, en selfs optree!

Kom ons bid elke dag soos Rudyard Kipling:
“Lord, teach us to rule ourselves always, controlled and cleanly, night and day.”

Ernest