Paulus gebruik in Galasiërs 3:1 ‘n interressante Griekse woord,
wat destyds bekend was “dat jy nou nie lekker by is nie”,
dat jy “die kluts heeltemal kwytgeraak het”,
dat jy nou nie al jou varkies lekker op hok het nie!
Lees Galasiërs 3:1-5 en sien hoe dit vanself spreek:
“Dit lyk my julle klomp Galasiërs het intussen die kluts heeltemal kwytgeraak.
Vroeër is die goeie nuus so duidelik aan julle verkondig,
dat julle Jesus Christus met julle eie oë aan die kruis kon sien hang.
Wat het intussen skeefgeloop?
Sê my, hoe het julle deel gekry in die krag van die Heilige Gees?
Was dit deur te doen wat die wet sê?
Of deur die goeie nuus te glo? Ja, natuurlik: deur te glo!
Julle het vroeër reg begin: in die krag van die Heilige Gees.
En nou?
Nou eindig julle in julle eie krag.
Was alles wat julle moes deurmaak, ter wille van julle geloof,
dan heeltemal verniet? Dit kan mos nie waar wees nie!
God wat julle met sy Gees vervul het,
en wat groot wonders onder julle doen,
doen nie hierdie dinge omdat julle die wet so streng gehoorsaam nie.
Of hoe? Nee, Hy doen hierdie dinge onder julle omdat julle die evangelie glo!”
Soms wil ons ook vra: “Is ons nou die kluts ook heeltemal kwyt!?
Die Griekse woord wat Paulus gebruik praat van “die bose oog”.
Die Grieke het ‘n groot vrees gehad dat die sogenaamde “bose oog”,
sy toorkuns oor hulle kry, en hulle baie dom goed sou aanvang.
Nou sê Paulus dit lyk of die “bose oog” hulle beetgekry het!
Hy kan nie glo dat hulle Christus as die gekruisigde,
en die boodskap van genade, nou weer verruil vir die nakoming van die wet nie!
Dit was dan so duidelik aan hulle verkondig!
En nou begin hulle weer allerhande dom dinge glo.
Hulle glo dat hulle goeie dinge moet doen, om so in die hemel te kan kom.
Weereens! Hoe is dit moontlik dat ons ook die “kluts kan kwytraak”,
en weer glo ons moet wetties lewe om God te behaag,
om in sy “goeie boekies” te wees, en hemel toe te kan gaan.
Ons kan die Sondag net só vier. Ons moet in die óggend stiltetyd hou.
Ons moét elke dag stiltetyd hou. Ons moet sus en ons moet so…
So baie mense leef wetties en vereis dit dan ook van ander.
En as ander nie presies soos hulle die Here dien nie, word hulle veroordeel.
Wanneer jy oor enige iets twyfel, of onseker is,
moet jy altyd in jou geestesoog vir Jesus aan die kruis sien,
en weet alles is reeds deur Jesus vir jou gedoen,
om die ewige lewe as erfenis te hê,
sowel as om nou reeds “hemel op aarde te hê”,
ten spyte van die moeilikste omstandighede wat jou mag tref!
Ernest