Godsdiens is om self by God te probeer uitkom.
Genade is alles wat God gedoen het, en steeds doen,
sodat jy klaar daar is!...by God!

In Galasiërs 3:10 skryf Paulus:
“Almal wat probeer om self by God uit te kom deur te doen wat die wet sê,
staan onder God se vloek, want daar staan in die Bybel geskryf:
“God vervloek elkeen wat nie tot in die fynste besonderhede
alles doen wat in die wet opgeskryf is nie”.

Dit is hoe dit is as jy deur die wet by God wil uitkom.
As jy deur die wet jouself wil red!
Dan skryf hy verder in verse 12-13:
“Die wet het niks met geloof te make nie, maar met dit wat ‘n mens doen.
Dit is presies soos daar in die Bybel staan:
“Elkeen wat alles doen wat die wet sê sal daardeur lewe”.
Gelukkig hoef ons nie meer alles self te probeer doen nie.
Christus het ons daarvan kom vrymaak.
Hy het God se vloek wat rus op almal wat nie stiptelik doen wat die wet vra nie,
op sy eie skouers geneem. Dit het aan die kruis gebeur.
Daar het Christus in ons plek ‘n vervloekte geword.
Die Bybel sê mos: “God vervloek elkeen wat aan ‘n houtpaal hang.”

Watter pad kies jy? Godsdiens? Of genade?
Die godsdienspad is mensgemaak.
Die genadepad is Godgemaak.
Godsdiens is dinge wat jy moet doen,
om in ‘n verhouding met God te kom.
Jy kan nie.
Niemand kan stiptelik doen wat die wet vra nie.
En dan voeg ons nog allerhande wettiese goed by!
Geloof is dinge wat jy uit dankbaarheid doen.
Dankdaarheid, omdat God self, met sy genade,
jou reeds in ‘n verhouding met Hom plaas.
En jy gló dit!

Godsdiens pleister jou wit.
Genade was jou wit.
Godsdiens boei jou vas.
Genade maak jou vry!

Ernest