Wanneer ons na mense kyk,
moet ons nie na hulle foute kyk nie,
maar na wat God met hulle kan maak.
Ons moet ook nie na kleur kyk nie, maar na die hart.
Almal se harte het dieselfde kleur!
Ons moet ook nie na volk of kultuur kyk nie,
maar na die mens geskep na die beeld van God.
Ons sou nog meer dinge kon noem,
wat ons bevooroordeeld teenoor mekaar maak.
En dit lê so diep gewortel dat ons elke dag moet bid hiervoor,
om met ander oë na alle mense te kyk,
en ook met ander oë na almal wat aan Christus behoort.
In Galasiërs 3:28-29 lees ons:
“Omdat julle aan Christus behoort, is julle nou ook deel van sy nuwe familie.
Binne hierdie familie maak dit nie saak aan watter volk jy behoort nie.
Of wat jou status of jou geslag is nie.
Hier gaan dit nie daaroor of jy ‘n Jood of ‘n Griek is nie,
en of jy ‘n slaaf of ‘n baas is nie, en of jy ‘n man of ‘n vrou is nie.
Binne sy familie is almal gelyk.
Almal hier binne is nou soos een nuwe mens in Christus Jesus.
Julle wat deel is van Christus Jesus se familie,
is natuurlik ook lede van Abraham se nageslag.
Daarom geld al die beloftes wat God aan hom gemaak het ook vir julle.”
Robert Fulghum vertel hoe hy met 80 kinders ‘n spel gespeel het,
“Reuse, Towenaars, en Dwergies”.
Die kinders jaag almal mekaar en niemand weet aan wie se kant jy is nie,
tot op ‘n histeriese hoogtepunt,
wanneer almal by hulle groep se leier gaan staan wat hul identiteit uitskree.
Skielik het ‘n klein meisie aan sy broek getrek en gevra waar die meerminne staan.
Hy het gesê dié speletjie het nie meerminne nie!
Maar sy het daarop aangedring dat sy ‘n meermin is,
en dat die Here ook die meerminne gemaak het!
Fulghum het besef hiérdie saak gaan hy nie wen nie,
en net daar moes hy ‘n meermin word, en dit hard uitroep,
sodat sy by hom kon staan!
Dan skryf hy:
“Where do the mermaids stand? If you can answer that question,
you can build a school, you can build a church,
you can build a country, you can build a world.”
Waar staan die meerminne?
By Koning Jesus, net soos die reuse, towenaars en dwergies,
die nerds en die nobodies,…..
By die Here is plek vir almal!
Ernest