Galasiërs 4 sê ons is nie meer slawe van wettiese godsdienstige reëls nie.
Vers 5 sê ons is losgekoop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.
En nou het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, sê vers 6,
wat ons God laat Pappa noem!
En daarom, sê vers 7, is jy dus nie meer ‘n slaaf nie;
jy is nou ‘n kind van God! En omdat jy sy kind is,
het God jou ook sy erfgenaam gemaak!

Eendag het ‘n priester by Moeder Teresa gekla,
oor ‘n senior priester wie se reëls hy gevoel het
besig was om hom in sy bediening te beperk.
Hy het vir haar gesê sý roeping en werk is vir die melaatses!
Hy wil homself opoffer vir die melaatses, en niks anders nie!
Sy het geglimlag en vir hom gesê:
“Brother, your vocation is not to work for lepers,
your vocation is to belong to Jesus.”

Ons is dikwels so vasgedraai in wat ons as ons roeping en werk sien,
dat ons ons eintlike roeping mis!
Wanneer ons besef ons is kinders van God en nie slawe nie,
wat ook nie hoef te werk soos slawe van godsdiens nie,
in watter roeping of werk ookal,
sal dié wete ons laat feesvier in ons héle lewe!
Alles wat ons dink, voel, sê en doen,
sal álles en álmal om ons ten goede verander!

Ek behoort aan God in Christus!
Laat dit jou elke dag se dryfkrag wees!
In álles en met álmal!

Die afrigters van ‘n sportspan in Baltimore het gereeld vir hul spelers gevra:
“Wat is ons roeping en werk!?”
En dan het die span soos een man geskree: “Om óns lief te hê!”
Dan skreeu die afrigters weer: “En wat is júlle roeping en werk!?”
Waarop die span skree: “Om mekáár lief te hê!!”
Dit was blykbaar merkwaardig watter verskil hierdie span,
en afrigters, in mekaar se lewe gemaak het!

Dit is ook ons roeping en werk as Jesus volgelinge in God se span!
Al hoe die Jesus-span wen, is om lief te hê, onvoorwaardelik,
deur die goeie in alle mense te soek,
en die goeie in alle mense se lewe te doen!
Ons is kinders van God, ons het die Gees in ons,
ons kan God ons Vader noem, Pappa sê vers 6,
en al sy goedheid is ook ons sin! Deel dit met almal!
Dit is die roeping en “werk” van jou lewe op aarde….!

Ernest