Soms kan jy dink iets is goed vir jou, terwyl dit gladnie so is nie.
Navorsers by die Montana State University het bewys dat
‘n peuselhappie wat hoog in suiker is,
nie noodwendig jou energie vermeerder nie.
Hulle het langafstand atlete op stilstaande oefenfietse getoets.
Daar is bevind dat atlete wat ‘n suikerlose drankie voor oefening gedrink het,
25% langer kon trap as die wat ‘n suikerryke drankie voor oefening gedrink het.
Daarmee het hulle atlete aangeraai om nié
suikerryke drankies voor wedlope te drink nie.
Die meeste mense en atlete het gedink die suiker
sou ekstra energie verskaf.
Toe nie so nie.
Dit laat jou dink aan Spreuke 25:27 waar die skrywer sê:
“Om te veel heuning te eet is nie goed nie,
ook nie om eer te bly soek nie.”
Mens kan jou verlekker in die gesonde heuning, en tog skade doen.
Net so kan jy dink dit is goed vir jou om eer te soek,
en dan hoogmoedig raak.
Jy kan jou in eie eer verlekker, soos in heuning,
maar die lekker is van korte duur.
Hoogmoed tree in en, soos met die soet heuning,
doen dit jou baie meer skade as goed.
Soos wat ‘n oormaat suiker, of heuning,
jou energie eintlik skade doen op die lange duur,
so gaan ‘n diëet van selfgenoegsaamheid en eie eer jou skade doen.
In plaas daarvan dat dit jou vir jou lewenswedloop versterk, verswak dit jou.
Soek die eer van God.
Geloof stap in, waar eie eer uitstap.
Moenie te veel heuning eet nie…!
Ernest