Selfverheffing is vernietigend!
‘n Fabel word hieroor vertel:
“’n Klein paddatjie was verskrik toe hy opgekyk het,
en ‘n os uit die dam sien drink waarin hy bly.
Hy spring toe dadelik na sy oupa toe, en vertel die oupa van die groot dier!
Die oupa was gedetermineerd dat niemand groter as hy kan wees nie,
veral nie in die oë van sy kleinseun nie.
Hy begin homself toe opblaas,
en vra elke keer vir die kleinseun of die os só groot was?
“Oupa, hy was baie groter”, antwoord die kleinseun-padda elke keer.
En dan blaas die oupa padda homself nog verder op.
So het dit aangehou totdat die groot padda uiteindelik gebars het!
‘n Goeie selfbeeld is gesond,
maar daar is ‘n groot verskil tussen die waarde wat ons vir God het,
en ‘n selfverheffing en grootheidswaan wat uit onsself kom.
Galasiërs 6:3 sê:
“As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself.”
‘n Opgeblase ego en selfgenoegsaamheid, is dikwels te sien in mense se lewens.
Hulle kan met groot smaak vertel hoe hulle hierdie of daardie persoon op sy plek gesit het,
oor die telefoon, of by die navraag toonbank, of waar ookal…..
Of hulle vertel met groot omhaal van hierdie of daardie sukses waarby hulle betrokke is…
Daarom is dit nodig dat ons altyd moet erken,
as ons iets deur die genade van God tot stand gebring het.
En dat ons is wie ons is, deur die genade van God.
En nog nie is wat ons behoort te wees nie, as gevolg van onsself!
Paulus stel dit ook duidelik in Romeine 12:3:
“Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie.
Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees,
in ooreenstemming met die maat van geloof,
wat God aan elkeen toebedeel het.”
Al is jy hoe reg, en die ander persoon op die foon hoe oningelig of verkeerd,
en al maak iemand watter fout ookal, waar jy in die ry staan,
of by die navrae toonbank, of waar jy iets moet ingee wat nie werk nie,
en nog onder waarborg is,….bly beskeie, en moenie jouself opblaas nie!
As jy so vol is van jouself, is jy soos die padda, heeltemal uit proporsie opgeblaas.
En jy kom dit nie eers agter nie, maar almal om jou sien hoe jy lyk en optree….
Wees inderdaad so klein dat God deur jou groot kan wees.
Ernest