Die gedig Invictus bevat die volgende woorde:
“Ek is in beheer van my lot: Ek is die kaptein van my siel.”
Dit is ‘n goeie gedig en goeie poësie, maar dit is baie gevaarlike teologie.
Wanneer jy dink jy is in beheer, deur selfverheffing, sal dit lei tot ineenstorting.
Baie mense leef egter asof hulself en hulle alleen in beheer is van hul siel !

Spreuke 18:12 sê dit duidelik:
“Op selfverheffing volg ineenstorting,
op nederigheid eer.”

‘n Kaptein van ‘n skip het by geleentheid hierdie waarheid bevestig,
deur die gebeure as gevolg van sy selfverheffende optrede.
Teen die einde van ‘n lang vaart het hulle die land genader,
en ‘n passasier wat bekend was met skeepsvaart,
het aan die kaptein gevra wanneer hy anker gaan neerlaat,
om die hawehoof te vra om hom in die hawe in te begelei.
“Nie ék nie”, het die kaptein gesê, “ek is die kaptein, en my eie loots, van hierdie skip.”
Vasbeslote om betyds in die hawe te wees,
het hy ‘n nou kanaal gekies om die afstand te verkort.
Die bemanning het hom bevraagteken, maar hy het hulle geïgnoreer.
Hy het ook die passasiers laggend verseker dat hulle teen dagbreek aan land sou wees.
Hulle wás inderdaad teen dagbreek aan land….maar op ‘n ander manier.
Die skip het gestrand, die kaptein het gesterf, en baie passasiers saam met hom.

Ook ons lewensvaart kan ons nie as kaptein van ons eie lewe aanpak nie.
Die reis is eenvoudig te gevaarlik om sonder God aan te pak.
Maar met die Here Jesus as Leidsman, sal ons die hemelse kus veilig bereik.
Buig in nederigheid en afhanklikheid voor Hom,
want op nederigheid volg eer,
sê Spreuke 18:12.

Luister mooi na hierdie waarheid:
Diegene wat alléén en selfverheffend hulself wil lei, het ‘n dwaas vir ‘n volgeling.”

Ernest