Die blaasoppie vissie het geen waarde vir ‘n visserman nie.
Dit het ‘n groot mond en ‘n geriffelde lyf wat soos verweerde leer lyk.
Indien jy die vis omdraai en kielie,
begin die vis opblaas totdat dit soos ‘n gloeilamp lyk!
Mense kan ook so wees.
‘n Klein bietjie subtiele lofprysing en eer,
en hulle begin opswel in hoogmoed.
Hoogmoed is die gevolg van selfsug en eersug.
Hoogmoed laat hulle naderhand soos ‘n blaasoppie lyk.
Tog is daar nie iets solied in hulle nie. Hulle is vol wind.
Ons moet onsself hierin ondersoek….
Dit het dan ook dikwels ernstige gevolge vir mense rondom ons.
Dink maar aan die Christene in 1 Kor. 5.
Hulle raak so vol van hulleself,
dat hulle immoraliteit in hulle midde aanvaar.
Hulle raak “opgeblase” en Paulus skryf in 1 Kor. 5:2 aan hulle:
“En dan verbeel julle julle nog julle is beter as ander.
Moes julle nie liewer daaroor getreur het nie?”
Hulle was trots en hoogmoedig,
terwyl hulle eintlik oor die sonde in hulle lewe moes gehuil het.
God wil hê dat ons “opgebou in Christus” moet wees,
en nie “opgeblaas in hoogmoed” nie.
Ons houding moet wees wat Paulus aan die Filippense skryf in 2:3:
“Moet niks uit selfsug of eersug doen nie,
maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”
Hoe kleiner ons word,
hoe meer ruimte is daar vir God om in ons te werk!
Ernest