Beperkings hoef verseker nie beperkend te wees nie.
Galasiërs 4:12-15:
“My liewe broers en susters, ek smeek julle:
staan ‘n slag in my skoene,
dan sal julle besef hoeveel ek vir julle omgee.
Dan sal julle ook besef dat ek soos een van julle geword het.
Ag, ek onthou nog hoe vriendelik julle my ontvang het,
toe ek vroeër daar by julle was.
Nie een van julle het ‘n skewe woord vir my gesê,
of my sleg behandel nie.
Onthou julle nog hoe siek ek was,
toe ek daardie eerste maal daar by julle kom preek het?
Tog het julle my baie goed versorg.
Dit was glad nie vir julle ‘n probleem,
of ‘n verleentheid om dit te doen nie.
Trouens, julle het my op dieselfde manier ontvang,
as wat julle ‘n engel van God, ja,
vir Jesus Christus self sou ontvang.
Wat het dan van julle blydskap en gasvryheid geword?
Party van julle sou in daardie tyd selfs julle oë uitgehaal
en vir my gegee het.”
Moenie afgekoel raak in jou toewyding en oorgawe vir die Here nie.
Moenie dat beperkings wat oor jou pad kom jou beperk nie!
Dit is blykbaar ook wat hier met die Galasiërs gebeur het.
Iets het beperkend op hulle oorgawe vir die Here begin inwerk.
Hulle het Paulus na sy Damaskus ervaring met soveel oorgawe ontvang,
en nou vra hy aan hulle wat van hulle blydskap en gasvryheid geword het?
Mense was selfs bereid om hulle oë vir hom te gee.
Party mense meen dat Paulus na Damaskus altyd met sy oë gesukkel het.
Tog het Paulus, ten spyte van sy oog probleme,
en die beperkings wat dit gebring het,
steeds sy alles gegee vir die Here se saak.
Geen beperking moet jou terughou nie.
Luister net hierna:
Lizzie Johnson het duisende boekmerke gemaak,
om geld in te samel vir Jesus bedieninge regoor die wêreld.
Sy het haar rug ernstig beseer toe sy ‘n jong meisie was,
en sy was al vir meer as 27 jaar bedlêend.
Sy het ook ‘n kwilt gemaak wat sy vir ‘n biskop uit Indië gegee het.
Sover as wat hy die evangelie van Jesus Christus bedien het,
het hy die kwilt vir mense gewys, haar storie vertel,
en so geld vir haar bedieninge van die Here ingesamel,
wat hy dan na haar sendingfonds gestuur het.
Beperkings hoef nooit beperkend te wees nie.
Moet nooit dink jy het te min, of kan te min doen vir die Here nie.
Gee wat jy kan, jou 100% binne jou beperkings,
en God sal dit verseker groot gebruik!
Soos die 5 brode en die 2 vissies,
wat Jesus van die seuntjie gevra het…!
Ernest