“Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is.
Julle moet dit egter nie net doen wanneer ek daar by julle is nie.
Nee, julle moet elke dag goeddoen,
ook nou wanneer ek ver van julle af is.
Julle is vir my soos my eie kinders.
Ek voel oor julle soos ‘n ma wat geboortepyne het.
Hierdie pyn sal nie ophou,
voor Christus weer in julle lewe die ereplek kry nie.
Ek wens dat ek nou daar by julle kon wees.
Dan sou dit nie vir my nodig gewees het om so met julle te raas nie.
Ongelukkig het ek nie ‘n ander keuse nie.
Ek moet my hart hier op papier uitpraat,
want ek is raadop met julle.” Gal. 4:18-20.
‘n Klein dogtertjie het haar ma ‘n harde tyd gegee.
Sy was naderhand ook skoon raadop.
Moedeloos het sy vir die dogtertjie gesê:
“Elke keer as jy jou nie gedra nie,
kry ek nog ‘n grys haar op my kop.”
Die dogtertjie het nagedink en gesê:
“Dan moes mamma baie stout gewees het,
want kyk hoe baie grys hare het ouma!”
Die Galasiërs het met hulle optrede vir Paulus grys hare gegee.
Maar hy skryf hulle nie af nie.
Inteendeel, hy gebruik hier ‘n deernisvolle term, “my eie kinders.”
Paulus gebruik nêrens anders hierdie term nie.
Sy hart loop steeds oor van liefde vir hierdie mense.
Hieruit moet ons leer:
Al maak mense wát met jou, en aan jou, moenie hulle afskryf nie.
Gee steeds aan hulle die liefde van die Here.
Want dit is wat God met ons maak!
Ernest