Hoekom twyfel ons so maklik,
as dit lyk of God se beloftes aan ons nie gaan uitwerk nie?
Om hierdie rede sê Hebreërs 10:23 ook:
“Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely,
want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.”
Gestel iemand wat vir jou lief is en omgee,
sê vir jou én gee vir jou die bewys of waarborg,
dat hy 1 miljoen rand vir jou op jou naam belê het,
en dat jy dit op sy sterfdatum in die toekoms gaan kry,
sal jy nie twyfel of jy dit gaan ontvang nie.
Al mag jy dalk haastig en ongeduldig wees om die geld te kry….
Maar gestel dieselfde persoon sê vir jou:
“As alles voorspoedig gaan…,
mag ek dalk eendag ‘n miljoen rand aan jou gee.”
Dan weet jy dat jy slegs die geld sal ontvang as hy nie van plan verander nie,
of bankrot gaan nie, of nie sy belofte hou nie, of doodgaan nie.
Dan sal jy verseker onseker bly!
Met God se beloftes is daar nie ‘n “as” aan gekoppel nie.
Sy beloftes sal nie waar word “as alles goed gaan” nie.
Ons het die versekering en vertroue dat God sy beloftes gestand sal doen.
God se eie karakter waarborg sy beloftes.
God self verander nooit.
God vergeet nie sy Woord of sy beloftes nie.
Dit mag lyk of sy beloftes uitgestel word,
maar ons kan verseker weet,
elke belofte sal nagekom word.
Kyk net wat staan in Efesiërs 1:14:
“Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder
sal ontvang wat God belowe het..”
Die meeste van ons het al, een of ander tyd,
aan die einde van ons planne en vermoëns gekom.
En juis dáár het ons God weer ontdek.
Daar waar Hy ons van krag en hulp en uitkoms voorsien het.
God is nooit te stadig of te laat nie.
Daarom moet ons nie moedeloos word nie.
“Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely,
want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.”
Ernest