‘n Man wat in ‘n onherbergsame streek gaan stap het,
vertel hoe hy moes terugkeer na sy vertrekpunt,
om voor donker terug te wees by sy kamp.
Hy het lank gestap en later sy kompas uitgehaal,
om seker te maak of hy in die regte rigting stap.
Tot sy verbasing het die kompas gesê hy moet
in die teenoorgestelde rigting stap!
Hy was so seker van sy eie oordeel,
dat hy besluit het daar moet iets met die kompas verkeerd wees.
Hy het vir nog ‘n tydjie lank sy eie aanvoeling gevolg,
en toe weer gaan staan en dink:
“Die kompas het my nog nooit in die steek gelaat nie,
daarom moet ek dit nou ook glo en vertrou.”
Hy het omgedraai en die kompas gevolg,
tot veilig by sy bestemming!
Salomo het oor God aan die volk gesê:
“…nie een van die goeie beloftes wat Hy,
deur sy dienaar Moses gemaak het,
het onvervul gebly nie.” 1 Kon. 8:56.
En daardie versekering is vandag nog geldig.
Wat die Here belowe, dit sal Hy doen.
Sy opdragte en bevele is altyd betroubaar.
Hy sal ons nooit verkeerd of op ‘n dwaalweg lei nie.
So seker as wat ons ‘n kompas kan vertrou, al twyfel ons…
Hoekom wil ons ook dikwels ons eie kop volg,
as die kompas ons nog nooit in die steek gelaat het nie?
Ons hoor wat die Here sê, maar ons wil gouer as sý tyd,
of ons wil korter as sý pad, of ons wil deur ‘n ander poort as sy poort,
‘n deur oopforseer wat Hy toehou.
Die Bybel dui altyd vir ons die regte koers aan.
Om op God te wag, sal ook die regte tyd op ons pad bring.
Wanneer een deur toegaan, sal God ‘n ander oopmaak, ook op sý tyd.
Ernest