‘n Paar jaar gelede was daar ‘n baie gewilde advertensie,
van ‘n koffie verromer, “coffee cream”, Creamora.
Wanneer die man van die huis gefrustreerd daarna soek in die yskas,
en dan ewe gefrustreerd na sy vrou roep daarvoor,
omdat hy dit nie kry nie, antwoord sy half skreeuende terug:
“It’s not inside, it’s on top!”…bo-op die yskas!
Met baie van ons gaan dit ook so in terme van ons kennis en ons getuienis.
Ons het “al die kennis” oor God en wat ons moet getuig,
maar dit is in ons kop, “on top”, nie in ons harte nie.
Ons harte dring ons nie tot getuienis nie.
“It’s not inside, it’s on top”.
En omdat ons harte ons nie dring nie, want dit is nie “in ons hart” nie,
daarom kom getuienis ook nie by ons monde nie!
Die Heilige Gees wil dit as’t ware van die kop na die hart na die mond neem!
Daarom sê 1 Kor. 2:13 ook:
“Dit verkondig ons ook….met woorde wat die Gees ons leer.”
Wanneer jou kennis van God na jou hart gaan,
kan dit ook nie anders as om na jou mond te gaan nie!
Wat die hart van vol is loop die mond van oor!
Handelinge 4:20 bevestig dit:
“Dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”
Die breuk tussen kennis en getuienis moet dringend in ons lewens reggestel word.
Hoekom bly ons so maklik stil wanneer ons wéét die Here wil hê ons moet getuig?
Is ons nie gewoon net ongehoorsaam nie? Of is dit vrees? Vrees vir wat?
Hoekom laat ons toe dat die vryheid wat die Gees ons hierin gee, aan bande gelê word?
1 Kor. 2:13 sê dan juis ons verkondig, of getuig, met woorde wat die Gees ons leer.
Kort voor die hemelvaart gee Jesus aan sy dissipels die versekering,
dat ons krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom,
en ons sal sy getuies wees!
Wanneer ons God se Woord in ons gedagtes het,
wil die Heilige Gees dit ook in ons harte laat lééf,
en dit in ons monde plaas met woorde wat Hy ons leer!
Laat ons getuig!
Ernest