Baie Christene is entoesiasties om te getuig.
Hulle wil ook na ver lande gaan,
en doen alles om uit te vind na watter lande om te gaan.
Maar moet ons almal ver gaan? Verseker nie.
Ons kan dikwels juis die mense rondom ons verwaarloos.
‘n Jong dame was baie entoesiasties om die evangelie met ander mense te deel.
Sy het haar predikant besoek en gevra waar sy die beste vir die Here kon gaan getuig.
Die leraar het iets op ‘n stukkie papier geskryf, dit in ‘n koevert gesit,
en gesê sy moet dit eers by die huis gaan oopmaak,
en daarvoor bid of dit nie is waarnatoe die Here haar stuur nie.
Sy het angstig huistoe gery en dit dadelik oopgemaak.
Op die papiertjie het net twee woorde gestaan: “Jou pa.”
Sy het dadelik besef hoe sy haar pa verwaarloos het,
en hoe hy self ook nog nie met oorgawe vir die Here wou leef nie.
Sy het gebid, en die Here het haar na haar pa gestuur!
Sy het hom met liefde bedien, gereeld besoek, en hom na die Here gelei.
Om die Here op ‘n ver plek te gaan dien as sendeling, vra groot opofferings.
Maar die opofferings in ons midde is net so groot, as dit met oorgawe gedoen word.
Ons roeping is “hier” en “daar”. En dit is vir die Here ewe belangrik.
Jy is ‘n getuie waar jy leef. As jy dit met oorgawe doen, is die uitdagings ewe groot.
Daar is nie ‘n “tuis” of “buitelands” in God se sending woordelys nie.
Markus 5:19:
“Gaan na jou huis, na jou mense toe,
en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het.”
Ernest