Tans is ‘n geweldige weghol-vuur besig om groot skade
in Alberta in Kanada aan te rig.
In sy boek, “450 Stories for Life”, vertel Gust Anderson,
dat hy ‘n kerk in die ooste van Alberta in Kanada besoek het,
waar daar vir 8 jaar lank groot droogte was.
Die ekonomiese situasie van boere was donker.
Maar ten spyte van hulle swaarkry en armoede,
het baie van hulle nog gereeld bymekaargekom,
om die Here te loof en te prys!
Anderson sê dit was hartverskeurend om te sien hoe hierdie boere,
besig is om alles te verloor wat hulle oor dekades met harde werk opgebou het.
Veral een man se getuienis sal hom altyd bybly, skryf hy.
Geklee in ‘n ou oorpak en flenter jas het die man opgestaan,
en hy het Habakuk 3:17-18 uit sy kop uit opgesê met groot intensiteit:
“Al sou die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie,
en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.”
Wanneer ons geluk en sin van die lewe van aardse besittings afhanklik is,
word ons vernietig wanneer ons dit alles verloor.
Maar vreugde en vrede in die Here kan niks of niemand wegneem nie.
Die wat op die Here alleen vertrou, kan soos hierdie man juig,
in God, sy Redder,
selfs in die grootste beproewing.
Ernest