Die kanselier van die Grand Rapids Baptiste Kollege en kweekskool,
Wilbert Welch, het van sy professor Brokenshire vertel dat hy
die eerste dag vir ‘n student gevra het of hy
enige probleme met die Bybel ondervind.
Die nuwe student het selfversekerd geantwoord dat hy
geen probleme met die Bybel ondervind nie.
Waarop Brokenshire gesê het:
“Waarom lees jy dan so ondeurdag die Bybel meneer?
As jy dit gereeld en aandagtig lees, sal jy probleme ondervind.”
Indien ons die Bybel aandagtig lees, sal ons vrae hê.
Petrus het self in 2 Pet. 3:16 gesê dat sommige van die dinge wat Paulus sê,
moeilik is om te verstaan.
Soms sien ons uit ons verstaans-perspektief ‘n deel van die waarheid raak.
Ander kere lyk dit vir ons asof die Bybel homself weerspreek.
Dan is daar ook nog dieper teologiese vrae,
soos die uitverkiesing en die mens se vryheid,
die oorsprong van die bose, en die sin van pyn en lyding.
Maar hierdie dinge moenie ons vertroue in die Bybel,
as die Woord van God, ondermyn nie.
Deut. 29:29 sê:
“Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God,
maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons.”
‘n Verstand wat vrae vra is vrugbare grond vir lering en geestelike groei!
Nogtans is daar dinge wat ons nie volledig verstaan nie,
soos die Drie Eenheid van God, en ons moet dit in nederigheid aanvaar,
dat ons nie alles van God sal weet nie,
en ook nie alles van die toekoms saam met God nie.
In hierdie opsig sê ook Paulus in 1 Kor. 13:12:
“Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld,
maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.
Nou ken ek net gedeeltelik,
maar eendag sal ek ten volle ken, soos God my ten volle ken.”
Is dít nie juis die wonderlike nie?
Dat God mý ten volle ken!
Dat Hy my liefhet en in genade versorg.
Dat Hy vir my omgee en aan my alles gegee het,
om ook in ‘n verhouding met Hom te kan leef, en Hóm lief te hê!
Dit is oneindig meer werd, as om alles te verstaan en te verklaar!
Ernest