Die ou Afrikaanse vertaling het gesê:
“Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon”.
Johannes 1:14.
Deur sy koms na hierdie wêreld,
het Jesus die Vader op ‘n besondere manier aan ons bekend gemaak.
Dit is wat bedoel word met “die Woord het vlees geword”,
of soos die Nuwe Vertaling dit sê:
“Die Woord het mens geword, en onder ons kom woon.”

Die teoloog F. W. Boreham het hierdie waarheid verder verduidelik:
“Die Christengelowige moet die Christelike boodskap vergesel.
Die Woord moet teen die korrekte, menslike agtergrond verkondig word…
Die woorde van die mens word slegs met passie en krag gevul,
wanneer dit sígbaar word in die lewe van dié wat dit uitdra.
En daarom kan die gedagtes van God slegs aan die mens oorgedra word,
as dit só verkondig word.”
Saam met die evangelie, moet die evangelie gelééf word!

George Elliot het óók hieroor gesê:
“Soms word woorde vlees;
hulle blaas oor ons met ‘n warm asem,
hulle raak ons aan met sagte, deernisvolle hande,
hulle kyk na ons met hartseer oë,
hulle praat met ons met dringende stemtoon,
hulle is gekleed in ‘n lewende, menslike siel.”

Indien mense die evangelie moet “hoor”, moet hulle dit ook kan “sien”.
Hulle moet dit kan síén in die lewe van kinders van die Here wat dit verkondig.
Jesus het tog self gesê:
“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien,
en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” – Matteus 5:16.
Christen gelowiges wat hulle geloof uitleef,
gee “vlees en bloed” aan die evangelie.
Dit is wat die Here op aarde kom doen het.
Ons moet ook leef wat ons glo!

Lééf wat jy glo!

Ernest