“Julle sal My getuies wees in Jerusalem….
en tot in die uithoeke van die wêreld.” – Hand. 1:8.

Richard D. Wood het in sy boek “Outreach”,
wat hy gepubliseer het vir die Oosterse Sendinggenootskap,
die belangrike vraag gevra in verband met ons motiewe
om die evangelie uit te dra na die wêreld.
Hy vertel hoe mense dikwels terugkom van ‘n uitreik na Haiti,
en dan sê: “Die Here het my hart gebreek vir Haiti.”
Maar, vraag is, was dit nie die fisiese armoede wat hulle geraak het nie.
Of was dit werklik die geestelike nood?...vra hy.
Was die gebrek aan brood dit wat hulle aangegryp het,
of die behoefte aan die Brood van die lewe? Die Woord van God…

Die feit dat mense gebrek aan brood het,
mag wel ook deur die Here gebruik word om ons oë oop te maak,
ook vir die geestelike nood van die wêreld.
Maar sou dieselfde mense in die gegoede voorstede waar ons woon uitroep:
“God het my hart gebreek vir ons voorstede en die gemeenskap waar ek woon.”
Sou die goedversorgde grasperke, duur huise en motors,
en goedgeklede mense dieselfde reaksie uitlok?

Die evangelie is ewe veel nodig in gesiene woonbuurtes,
sowel as in krot-woonbuurtes.
Die karakter van God, en die geestelike nood van die mensdom,
moet ons motiewe wees om die evangelie te deel.
Nie ons gevoelens en gedagtes dat dit hiér of dáár beter gaan nie.
Elke mens, ongeag armoede of rykdom, oud of jonk,
of watter onderskeid ookal,
het die evangelie van Christus ewe nodig.
Doen alles in jou vermoë om oral die evangelie uit te dra.
Moenie dink; “hulle weet reeds wat ek hulle wil vertel nie”.

Ernest