Paulus skryf in Handelinge 20:24:
“Maar al is my lewe vir my kosbaar,
reken ek dit van geen belang nie,
as ek maar net my lewenstaak kan voltooi.”

Dit is interressant, dat in vroeë geestelike kunswerke,
die pelikaan-voël as simbool van geestelike selfopoffering gesien is.
Vir vissermanne lyk hulle meer na luilekker leeglêers.
Hulle hou elke vangs van vis fyn dop, en kyk waar hulle ‘n vis kan vaslê!
Beslis nie “selfopofferende heiliges” nie….

Dit is egter nie weens pelikane se optrede,
dat hulle in vroeë Christelike kunswerke
as selfopofferende simbole gesien is nie.
Die rede is hulle voorkoms.
Die punt van die pelikaan se snawel,
lyk asof dit in rooi kleurstof gedoop is.
Volgens die legende sal ‘n ma pelikaan haar snawel
in haar eie bors steek, en haar kinders met haar eie bloed voed,
ingeval kos baie skaars raak.
Die vroeë kerk het hierdie legende as iets spesiaals gesien,
‘n mooi simbool van dit wat Christus vir ons gedoen het.

Die legende van die pelikaan praat nie net van die Verlosser nie,
maar ook van ons, bloedgekoopte kinders van die Here.
Die mens is meer bekend vir inhaligheid, as vir selfopoffering.
Maar die Heilige Gees kan en wil elkeen van ons verander,
om meer en meer soos Jesus op te tree.

Ons moet onsself ondersoek, of ons uit selfsug leef,
of selfopofferend die wil van die Here teenoor mense uitleef.

Ernest