“Deur die Seun het ons die verlossing verkry,
die vergewing van ons sondes.” – Kol. 1:14.
Noudat ons Jesus Christus as Verlosser aangeneem het,
en Hom as Here van ons lewe volg,
moet ons nie een dag nalaat om ons te verheug in sy wonderlike gawe
wat Hy deur die kruis verdien het en aan ons gegee het nie.
Wat Hy deur sy lyding, dood, begrafnis en opstanding vir ons gedoen het,
moet ons elke oggend met nuwe dankbaarheid vervul,
ons die hele dag deur dra en bemoedig,
en in die nag soos ‘n kussing wees waarop ons kan rus.
Sir Arthur Conan Doyle skryf in “The Great Boer War”
van ‘n klein groepie Britse soldate,
wat swaar gewond moes terugval na ‘n hewige geveg.
Die gewondes het in ‘n gevaarlike gebied gelê en was steeds in spervuur.
Hulle het besef dat hulle enigste kans om te oorleef
‘n wit vlag met ‘n Rooi Kruis daarop sou wees.
Hulle het net ‘n stuk wit lap gehad, maar geen rooi kleurstof nie.
Toe gebruik hulle die bloed van hulle eie wonde,
om ‘n rooi kruis op die wit lap te verf.
Hulle vyand het die vlag as ‘n Rooi Kruis vlag gerespekteer,
en hulle het die Britse gewondes na veiligheid gebring, en hul wonde verbind.
Ons vyand, die bose, moet nie slegs die bloed van Jesus respekteer nie,
inteendeel!...hy is totaal magteloos daarteen.
En Christus se kruis is nie ‘n rooi kruis op ‘n wit lap wat gehys word
ter wille van oorgawe nie,
maar die kruis van oorwinning oor die bose!
Christus, en sy bloed aan die kruis, verteenwoordig sy offer,
wat die krg van die sonde en die dood vir altyd vernietig het!
Sy kruis is die absolute en volkome beskerming teen die aanklagte van Satan.
In die kruis van Christus roem ons!
Sy kruis is ons oorwinning,
en die Satan se val tot in ewigheid.
Moenie een dag nalaat om jou te verheug in die kruis van Christus nie!
Ernest