Dit is die vraag wat Jesus vra met Lukas 9:25:
“Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry,
maar homself verloor of te gronde gaan?”
Sal jy sterf vir jou lewensstyl?
Halfpad deur Jesus se bediening,
toe Hy sy rug gedraai het op sy sukses in Galilea,
en die pad na Jerusalem en die kruis ingeslaan het,
het Jesus hierdie ingrypende vraag gevra.
Kardioloog Robert S. Eliot van die St. Luke Hospitaal in Phoenix,
het dieselfde vraag gevra:
Is dit die moeite werd om vir jou leefstyl te sterf?
Hartaanvalle, en baie ander siektes,
as gevolg van stress, rook, swak dieet, min oefening,
min buitelewe, min menswees saam met kosbare mense, en saam met God!
Steven Berglas van Harvard het as sielkundige oor 10 jaar navorsing gedoen.
Sy gevolgtrekking ten opsigte van die mens se gesondheid en geestesgesondheid,
is dat ons eenvoudig ly onder die “suksessindroom”.
So dra jy in jouself die saad van selfvernietiging, sê hy.
Vandag se mensewaardes het dodelik geraak.
Daar bly min energie oor om mens te wees soos God dit bedoel.
“Wat help dit ‘n mens…?”, vra Jesus.
Wat help sukses, invloed, erkenning, mag, of enige iets anders,
as ons daardeur ons geestelike heelheid, gesondheid,
en mees kosbare verhoudings inboet?
“Wat help dit ‘n mens?”, vra Jesus.
Watter soort lewenswins is dit as jy tydelike sukses behaal,
maar jy verloor dit wat God as lewensnoodsaaklik sien?
Hoe leef jy?
Wat dryf jou?
“Wat help dit ‘n mens…?”,
vra Jesus.
Ernest