Ons wil graag in beheer van sake wees.
Ons dink selfs God verwag dit van ons!
Ons dink God se aanstelling van ons as sy aardse bestuurders,
is gelyk aan in beheer van sake wees.
Geen wonder daar is so baie beheerbeheptes nie.

Dikwels kom mense met ‘n skok agter ons is nie in beheer nie.
Neem maar die vreesaanjaende oomblik as jou motor se band op ‘n hoë spoed bars.
Of wanneer jy die slegte nuus kry van ‘n geliefde wat oorlede is…so onomkeerbaar…
Of wanneer ‘n misdadiger ‘n wapen teen jou kop druk.
Situasies waarin jy met ‘n skok besef jy is nie in beheer nie.
Die dilemma is dat ons nie bedraad is om buite beheer te wees nie.
Dit bring ontnugtering, magteloosheid, woede, selfs traak-my-nie-agtigheid.
Ons wil ten alle koste in beheer wees.

Geloof is juis om buite beheer te wees.
Ja, jy het reg gelees.
Geloof is om buite beheer te wees.
Geloof is sekerheid en onsekerheid tegelyk.
Dit is die vaste sekerheid van en in God.
Maar dit is ook onsekerheid van die res!
Dit is juis dit wat geloof laat groei.
Dit is om God 100% en volledig met alles te vertrou.
Geloof is om mý behoefte aan beheer,
van my eie lewe en omgewing, te laat vaar.
Want ék is nie in beheer nie.
Geloof is om aan God vas te hou in alles
Hy alleen is my enigste sekerheid.
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
Matteus 5:3.

Ernest