Psalm 146:3 sê:
“Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie.”
Tog steur ons ons nie aan hierdie Bybelse waarskuwing nie.
Ons sit al ons hoop op finansiële makelaars,
wat groot opbrengste vir ons waarborg,
en dan verloor ons maklik in ‘n oogwink al ons geld.
Ons loop agter geloofsgenesers aan,
wat ons eie geloof die skuld gee as dit nie werk nie.
Ons gaan luister na predikers wat groot deurbrake beloof,
en ekonomiese voorspoed in ons lewens voorspel,
as ons net sus of so maak, net om ontnugter met godsdiens te wees,
as niks hiervan waar word nie.
Natuurlik mag ons mense vertrou.
Om vol wantroue te leef, is ‘n vreugdelose lewe.
Maar wanneer ons al ons hoop op ander plaas,
asof ons lewens eksklusief van húlle afhang,
kan en gaan ons groot teleurstelling beleef.
Ons is nie in beheer van die lewe nie, en ander ook nie!
Al is mense hoe slim, wys, magtig en sterk,
hulle is nie in beheer van die lewe nie.
Hulle is steeds net mense wat aan alles blootgestel is, soos ons.
Daarom sê die Psalmskrywer,
ons moet nie ons hoop op magtiges plaas nie.
Ons almal se insig en vermoë is wisselvallig.
Die lewe is uiteindelik buite ons beheer.
Ons het eintlik maar oor min beheer.
Al wil ons hoe graag beheer hê.
Al lyk dit soms asof chaos wen,
verseker die Bybel ons oor en oor dat God in beheer is.
Geloof is om jou “beheer” oor te gee aan die Een wat in beheer is!
Om, wanneer jy voel of alles buite beheer is, met kalmte in Hom te rus.
Ons is vandag hier, en môre wég, al het ons alreeds vir oormôre beplan!
Vertrou God om in beheer te wees, vandag, môre, elke dag!
Ernest