Omdat ons in beheer wil wees,
is een van ons grootste probleme dat ons nie kan wag nie.
Min dinge frustreer mense soveel, as om te wag vir iets of iemand.
Die oomblik as jy moet wag, is jy nie meer in beheer nie.
En dit veroorsaak dat ons ook nie meer op die Here wil wag nie!
Klaagliedere 3:26 sê:
“Dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.”
Dit is ook goed om in ander situasies te leer wag.
Dikwels kan ons deur ons “opruk”-houding baie min verander,
veral aan die rede hoekom ons wag…..

Kyk net hoe ongeduldig raak mense wat in ‘n tou moet wag.
Is jy een van hulle? Wat doen jy? Wil jy ook dadelik bedien word?
Hoe beïnvloed jy die ander rondom jou?
Wat is die getuienis wat jy uitleef, deur jou woorde en oprtede, as jy wag?
Wanneer mense sien hulle moet agter in ‘n tou inval is hulle klaar kwaad.
Dadelik is almal wat agter die toonbank werk onbevoeg.
En alles en almal kry die skuld, van die regering tot my eie besige program.
Maar nie ék nie! Nie mý ongeduld nie. Nie mý “beheer”-behoefte nie….
Wanneer jy in ‘n tou moet inval het jy nie beheer daaroor nie.
Nie oor hoe vining dit beweeg nie, of hoe lank dit gaan neem nie,
of wat die persone vóór jou se behoeftes gaan vra nie….
en hoé lank húlle joú gaan ophou nie!
So verloor baie hul “beheer”, en raak self “buite beheer”!

Dit is in “toustaan” waar ons ons eie groot ego’s die gouste ontdek!
Watter reg het “ek” bo enige ander mens? Wat maak my beter?
Die leerskool van die Here geld ook en veral op hierdie praktiese plekke in die lewe.
Soos om in “toustaan” te leer, dat ék nie in beheer is van die lewe nie, maar Hy.
Dat my getuienis van geduld, en wág, ook hiér uitgeleef moet word.

Omdat ons so sukkel om hiérin, in klein dingetjies, te besef dat ons nie in beheer is nie,
sukkel ons ook met ons geloof, om te besef dat óns nie in beheer is nie.
Ons snap nie, en besef nie, dat om buite beheer te wees juis is wat geloof beteken nie.
Dit is om te besef dat jý nie alles kan nie.
Om agter in die Here se tou in te val,
en te wág, op Hom te wag, vir sy tyd, vir sý genade.
Geloof is om beheer oor jou lewe op te sê,
en dit vir die Here te gee.

Ernest