Iemand het gesê geskiedenis is nie dood nie.
Geskiedenis is nooit afgehandel nie.
Geskiedenis word daagliks gemaak.
In die film “Astronaut Farmer” sê die hoofkarakter vir sy kinders,
oor die geskiedenis onderwysers:
“They only teach you to read history,
I teach you how to make history.”

Met ons hande in die hande van God,
staan ons aan die kant van die Groot Geskiedenismaker.
Alles wat God doen is geskiedkundig!
Dit geld ook alles wat Hy tans doen, en ook in die toekoms gaan doen.
God is nie net deel van die geskiedenis nie!
God is die Geskiedenis Skrywer!
Daarom word ook van geskiedenis gepraat as “His-story”!
God se geskiedenis verander die gang van die wêreld!
God se woorde en dade is epogmakend!

God trek ons ook in by die geskiedenis wat Hý maak.
Dit begin by die lewe van toegewyde lojaliteit aan Jesus Christus.
Matteus 10:32 sê:
“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek,
vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.”
Wanneer ons onsself nie skaam vir die Here en sy woorde nie,
word daar van ons lewens kennis geneem, nie net daar waar ons leef nie,
maar ook op die mees verhewe plek in die heelal, by God self!
So skryf ons geskiedenis, deur die krag van God se Gees in ons,
net mooi dáár waar die Here ons vertrou om Hom te verteenwoordig.
Ons maak geskiedenis, die regte soort geskiedenis,
daar waar ons daagliks op grondvlak die roete van liefde en naastediens kies,
te midde van haat, selfsug en gierigheid in hierdie wêreld.
Wanneer ons kies om op grondvlak vir die Here te leef,
leef ons geskiedkundig!
Dan skryf God sy geskiedenis,
deur ons wat suurdeeg, sout en lig is vir die wêreld.

Kom ons maak geskiedenis,
deur saam met die Here te leef,
en vir die Here te leef,
saam met God wat die geskiedenis skryf!

Ernest