Ons jaag so maklik die wêreldse dinge na.
Ons wil, om die lewe voller en ryker te maak,
nuwe horisonne ontdek. In plekke en in goed.
Nuwe wêrelde, nuwe lande, nuwe landskappe.
Nuwe goed, “waarsonder ons nie kan klaarkom nie”.
Alles wonderlik, voorwaar.
Maar ons mis so maklik die volheid van die lewe hier bý ons.
Hier waar ons leef, en in di twat ons het, is skatte van onskatbare waarde.
Marcel Proust het gesê die eintlike ontdekkingsreise van die lewe,
gaan nie oor die ontdekking van nuwe plekke en nuwe landskappe nie,
maar oor die ontdekking van splinternuwe oë!
Om met nuwe oë na dit rondom jou te kyk, en soveel méér te ontdek.
Om te ontdek hoéveel rykdom God plaas in die mense rondom jou,
en in die dinge rondom jou, en in die plek waar jý is.

Openbaring 3:18 sê dit treffend met simboliese taal:
“Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop,
wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word;
en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande,
julle naaktheid, nie gesien word nie;
en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien.”

Om nuwe wêrelde te ontdek,
is om te leer om met nuwe oë na die lewe te kyk.
Dit is om in dieselfde tonele wat elke dag rondom jou afspeel,
nuwe skatte te ontdek.
Ons kort die oë om dit te ontdek, om dit raak te sien.
Christus het goeie raad vir ons.
Hy raai ons aan om saam met die gemeente van Laodisea,
in Openbaring 3, goeie oogsalf by Hom te kry,
sodat ons met nuwe oë na die lewe kan kyk.
Dan sien ons mense al hoe meer soos Hy hulle sien.
En ons ontdek rykdom waar óns leef,
soos ons dit nog nooit ervaar het nie.

Ons leef in rykdom, met skate van God oral rondom ons!
Moenie die rykdom van jou lewe mis nie.
Moenie brandarm lewe, terwyl jy skatryk is nie!

Ernest