Paulus bly beklemtoon dat ons nie skeiding moet maak tussen mense nie.
In Efesiërs 2:15-18 sê hy:
“Al die Joodse wette en reëls,
wat een mens ‘n Jood maak en die ander een nie,
het Jesus eenkant toe geskuif.
Hy het een nuwe groep mense uit die twee groepe gemaak.
Maar dit is nie al nie.
Jesus het ook gesorg dat daar vrede kom,
tussen God en hierdie groep mense wat eers self verdeel was.
Daarvoor was Hy bereid om sy lewe aan die kruis te gee.
Jesus het die goeie boodskap gebring,
dat daar vrede in die wêreld gekom het.
Die vrede is nie net bedoel vir die klompie Jode,
wat naby aan God geleef het nie,
maar ook vir almal in die wêreld,
wat vir baie jare so ver van God af was,
dat hulle niks van Hom geweet het nie.
Vir almal het Jesus die pad na God toe oopgemaak,
en deur die Gees ervaar ons nou ook
hoe naby God regtig aan ons gekom het.”
Jesus breek mure af,
sodat mense veilig hulle Godgegewe self kan wees!
Ons bou mure op om mense van mekaar te skei.
Om ook mense van ons af weg te hou.
Ons het allerhande vooroordele en wette en regulasies om mense te skei…
Dit gee aan ons valse sekuriteite van wie “ons” is en wie “hulle” is.
So meet ons met maatstawwe wat Jesus reeds eenkant toe kom skuif het!
Ons mure vertel vir ons wie is “in” en wie is “uit”.
Wie ons kan vertrou en wie ons nie kan vertrou nie.
Maar Jesus kom breek alle mure af deur ons Vrede te word.
Deur Jesus as jou Vrede te ken en te ervaar, laat jou mure afbreek.
Dit maak jou oop na mense toe, en laat jou leef na hulle toe.
Deur nou oop te leef na mekaar toe, met die liefde van die Here,
deel ons die genade van God met mense,
soos Jesus God se genade met ons kom deel het.
Ernest