“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon…” – Johannes 1:14.
Ons onthou nog die Hooghollandse Voortrekkerbybel.
Die Statenbybel, met mooi ou illustrasies,
en ‘n afdeling vir geboortes, huwelike en sterftes.

Die Skrif het voor in die wakis gehoort.
Simbolies die wakis van jou lewe, om jou geestelik op koers te hou.
Veral as jy die onbekende moet intrek.
Elke dag is vandag ook vir ons die onbekende.
Daar kan vandag heel onverwagte dinge met jou gebeur.
Die Skrif is daarin jou anker en kompas.

Hoe sou ons leef sonder so ‘n riglyn?
Waaraan sou jy jou anker?
Hoe sou jy weet wat die ware noord is?
Die Skrif hoort vandag nog op ons “bedkassie”.
Maar nie om daar te lê en stof gaan nie.
Dit moet voos gevat wees, dikwels en goed gelees.
Woorde wat elke dag afsak tot diep in jou hart.
Wat deel word van jou hele lewe; denke, woorde, dade.

Maar dit gaan nie oor die Bybel opsigself nie.
Dit gaan ook vir die Bybel oor God!
Om in verhouding met die Lewende God te leef.
Wanneer die krisis ons tref moet ons nie angstig rondblaai vir ‘n vers nie.
Ons leef in verhouding met Gód, ons Vader, en Jesus ons Here, deur die Gees,
en die Woord is gesaghebbende woorde van God en oor God.

Maar die Woord is nie God nie.
God is baie meer as sy Woord.
Ons volg nie wetties die Woord na nie.
Ons volg die Lewende Woord na, Jesus Christus die Here!
Met Hom is ons in ‘n lewende verhouding.
Dit is Hy Wie ons volg, met Wie ons praat, en Wie se leiding ons vra.
Dit is Hy waaroor dit gaan.
Dit is Hy wat deur sy Woord en Gees vir ons die pad wys.
Die pad wat ons leef tot eer van God die Vader.

Leef vir Hom!

Ernest