Partykeer het jy regtig die behoefte om net eenkant te wees.
Jesus verstaan die behoefte wat ons soms het.
Om die “pad te vat” en afstand te kry,
tussen jou en die res van die wêreld.
Het jy ook al gevoel jy wil net vir ‘n rukkie op ‘n plek wees,
waar niemand jou sal pla nie? Niemand nie!

Die Bybel is vol verwysings na oomblikke toe Jesus besluit het,
“genoeg is genoeg”, en eenkant toe gegaan het.
Hy moes ook wegkom van die skare.
In Matteus 15 stuur Hy hulle weg, klim in ‘n boot, en vaar na stilte.
In Matteus 4 bid Hy dae lank in afsondering, in die woestyn.
Lukas 5 vertel Hy het gereeld eenkant in die natuur ingegaan,
om tyd op Sy eie deur te bring.

Ons het ook eenkant tyd nodig.
Oomblikke van sielsrus en sielsverkwikking.
Oomblikke om te onthou hoe klein ons is, en hoe groot God is.
Dan kan jy aan hierdie wonderlike teksvers vashou, dáár waar jy is:
“Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red.
Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde.
Hy jubel en juig oor jou….” – Sefanja 3:17.
Soms moet jy halt roep, jou afsonder, en onthou:
Jou Vader sien jou raak –
en Hy sing van vreugde oor jou!
Ongeag hoe jý voel!

Ons Vader nooi ons om eenkant toe te kom, na Hom toe.
Om net sy ongerepte liefde te ervaar.
Wanneer ons oorweldig word, of voor iets te staan kom wat te groot lyk,
of wanneer dinge net te veel word, en dit voel of ons die kluts kwyt raak….
Hy sien ons raak, selfs wanneer ons nie raakgesien wil word nie!
En Hy sing van vreugde oor jou!
God nooi jou eenkant toe, na Hom toe,
om sy goedheid te vier, en in sy liefde te kan stilword en rus.

Jesus het ook weggebreek.
Hy het nie in die geraas om Hom bly sit nie.
Hy het Hom gaan afsonder, sodat Hy rustig by sy Vader kon wees.
Hy het die oomblikke nodig gehad om sy Vader te “hoor”, om na Hom te luister.
Ons het dit ook nodig.
Die Here weet dit.
En Hy nooi jou ook eenkant toe,
na Hom toe.

Ernest