Die Here wil elke dag in ‘n lewende verhouding met jou leef.
Hy wil jou lewe vol en ryk maak met sy liefde.
Al is God só anders as ons, kom woon Hy deur sy Gees in ons,
en nooi ons om saam met Hóm te leef.
Hy wil ons meer maak in vreugde, vryheid en liefde.
Om saam met die Here te leef, gaan oor ‘n persoonlike verhouding met Hom,
Hy wat ons so onbeskryflik liefhet, en gedurig met ons besig is.
Geloof is nie ’n stilsit in die kerk nie,
maar die vreugde en vryheid van saamwees met Hom, in jou hele lewe.
Dit gaan nie in die eerste plek oor “doen soos Ek sê” voorskrifte van die Here nie.
God bied jou in sy genade en liefde ‘n naby verhouding aan,
waarin Hy jou wil lei om te groei,
en dieper en meer volledig mens te word wat werklik voluit leef!
Die Here ken jou. Hy weet wie ons is en wat ons nodig het.
Hy weet ook wie en wat ons kan word as ons saam met Hom leef.
Hy stop nie net nou en dan ‘n paar gate in ons lewe en hart toe nie.
Hy wil jou totaal nuut maak in denke, verhoudings,
die manier hoe jy glo, en hoe jy liefde gee, én liefde ontvang.
In Matteus 9:16 stel Jesus dit só:
“Niemand sal tog ‘n ou kledingstuk met ‘n stuk nuwe,
ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp,
en losskeur en ‘n nog groter gat agterlaat.”
Die Fariseërs was weereens besig om fout te vind met Jesus,
en met sy dissipels, en dat hulle nie die godsdienstige wette nakom nie!
Jesus dra dan hierdie kragtige boodskap oor:
‘n Kledingstuk wat krimp en ‘n gat in het,
kan tog nie met ‘n stuk nuwe ongekrimpte materiaal reggemaak word nie.
Hiermee sê Jesus dat die ou vorm van godsdiens,
waaraan die Fariseërs so krampagtig vashou,
met al die voorgee van wat reg en verkeerd is, verkrompe is.
Iets nuuts moet gebeur. Dit gaan oor meer as doen- en vertoon dinge!
Dit gaan oor ‘n lewende en persoonlike verhouding met die Here Self!
Ons moet toelaat dat die Gees ons totaal nuut maak, in ons verhouding met die Here!
Ernest