Psalm 42:2-3:
“Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
Ek dors na God, na die lewende God…”
Die passievolle verlange en brandende begeerte na God,
waarvan Psalm 42 praat, verwys ook na ons geestelike dors,
wat ons tot op die rand van die dood bring.
As God nie hierdie dors les nie, sterf ons van die geestelike dors!
Ons lewe ‘n ontsettende besige lewe, besiger as wat God ons wil hê.
Ons besef dikwels nie eers ons eintlike smagting is na God nie!
Ons is net bewus van ‘n groot vakuum,
wat ons nie self met sin en betekenis gevul kry nie.
Nie ons werk, of intellek, of sport, of stokperdjies,
of selfs ons geliefdes, kan hierdie intense dors les nie.
God wag egter vir ons.
Selfs wanneer óns Hom nie soek nie.
Selfs wanneer ons nie dink ons het dors nie.
Hy is daar en Hy wag vir ons.
Selfs wanneer ons, sonder enige verwagting of smagting na Hom,
deur ons dae voortbeur, wag Hy geduldig vir die oomblik,
dat ons oë en harte oopgaan en ons ontdek:
“U alleen is my hartsverlange”.
Donald Millar vertel in “Blue Like Jazz” hoe hy dié oomblik beleef het,
toe hy besef het God is nie net ‘n veraf gedagte of teenwoordigheid nie,
maar die Teenwoordige God in die hier en nou:
“Ek het dit gevoel, ek het dit besef, soos ‘n mens besef jy is honger of dors.
Die kennis van God het uit my kop na my hart gevloei.”
Ons voel gereeld of ons op wankelende grond leef.
Ons soek na dinge rondom ons wat ons veilig, suksesvol en volmaak laat voel.
Dan gryp ons na die wêreld en sy dinge.
Daar is egter net een plek waar jy vrede, liefde en vervulling kan vind.
Dit is op God se genade-skoot.
Dit is elke dag verniet.
Hy is elke dag gereed om jou op sy skoot te tel,
en jou hart te vul met ewige vrede en vreugde.
Hy wag vir jou….
Ernest