God is ewig.
Hy het baie tyd.
Hy wag geduldig.
Daarom vra Hy ook van ons om op Hom te wag.
Hy wag op jou…..om op Hom te wag!
Al is God, wat ons betref, skynbaar afwesig,
moet ons wéét Hy is nie. Dit is óns wat te besig is vir Hom!
Dit is nie Hy wat te besig is vir ons nie!

In Psalm 42 dink die skrywer terug aan die tye toe hy
jubelend voor ‘n feesskare geloop het na die tempel toe.
Toe hy nog tyd gehad het vir God. Hy sê in vers 5:
“As ek my lewe voor my laat verbygaan,
dink ek daaraan hoe ek opgetrek het na die woonplek van God,
voor ‘n skare uit na sy huis toe geloop het,
met gejuig en lofsang – ‘n skare wat feesvier.”
Nou is hy alleen. Hy skryf oor sy vertwyfeling en eensaamheid.
Dit voel vir Hom of God afwesig is.

Dikwels is dit ook so met ons.
In tye van feesvreugde beleef ons geen twyfel nie.
Ons het ‘n absolute vaste sekerheid dat God leef en omgee.
Maar in woestyntye ervaar ons sy afwesigheid.
Net soos ‘n wildsbok die afwesigheid van water beleef.
“Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God.
Ek dors na God, na die lewende God.” Psalm 42:2-3.

Die skrywer se noodkreet weerklink ook in ons lewe, uit vers 10:
“Ek wil vir God sê: “My Rots, waarom het U my vergeet?”
Maar God het nie. God vergeet jou nooit nie. Nooit nie!
Hy is daar waar jy is. Dit is óns wat Hom vergeet!
Deur die eeue kon sy kinders sy stem hoor,
as hulle soos Elia in die stilte van die aandwind hulle ore gespits hou,
om Hom te hoor net daar waar hulle is. God is daar waar jy is!
Andrew Murray skryf in “On Waiting on God:
“Ons is dikwels so met onsself en ons eie dinge behep wanneer ons bid.
Ons soek antwoorde en oplossings en wonderwerke,
en is nie bereid om te wag ….. en te luister…. nie.”

Wanneer ons egter in vertroue op die Here wag,
is ons eerste gedagte aan die Gód, op Wie ons wag, en nié onsself nie!
Ons word nie stil sodat Hy op óns moet reageer nie.
Dit gaan nie oor my nie!
Ek kan nie God manipuleer met mý stilte, en mý wag nie.
Ons word stil om Hóm te hoor! Dit gaan oor Hóm!
Ons moet stilword, sodat Hy Hómself aan ons kan bekendmaak.
Sodat Hy sý wil aan ons kan bekendmaak.
Nié sodat Hy op mý stilte moet reageer nie.

Om op God te wag, is om absoluut net op Hóm te fokus!
Om te wag op Sý tyd.
Om te wag op Sý manier.
Om te wag op Sý antwoord.
Om te wag op Sý Goddelike krag.

Ernest