Ons waardes is gegrond op die vaste basis van God se Woord.
Die Bybel se boodskap oor hoé ons met die aarde moet omgaan,
is duidelik en ondubbelsinnig.
Genesis vertel dat God die aarde gemaak het en dit behoort aan Hom.
Psalm 19 vers 1 sê God word daardeur verheerlik.
Romeine 1:20 sê God openbaar Homself óók deur die skepping.
Kol. 1:17 sê verder dat God die skepping onderhou.
En Openbaring 21:1-2 vertel dat God se groot plan is
om dit weer op te eis, en nuut te maak.
In dit alles het God ook vir die mens ‘n plek en ‘n werk gegee.
Sy heel eerste opdrag aan ons, in Genesis 2:15,
is om die aarde “te bewerk en op te pas”.
Gen. 1:26-28 sê ook in verskillende vertalings:
“heers”, “onderwerp dit”, “die mens moet die hoof wees”, “tem die aarde”.
Ongelukkig maak die mens die reuse fout,
om te dink die opdrag gee ons vryheid om die aarde se hulpbronne te stroop,
te vermors, te beskadig, en selfs te vernietig.
Maar God se Woord bedoel inderdaad dat ons in hierdie opdrag,
Gód se karakter moet toon, en nie ons menslike selfbeheptheid nie!
Dit laat ons ‘n baie belangrike waarheid ontdek wat bevrydend is:
Om ‘n getroue rentmeester van die aarde te wees, en alles wat God jou gee,
gaan hand aan hand met die ou Christelike beginsel van eenvoud!
Dit is bevrydend, want eintlik is dit maklik!
Vereenvoudig jou lewe!....sodat jy kan fokus op die dinge wat regtig saakmaak.
Adele Ahlberg sê in “Spiritual Disciplines Handbook”,
dat God ons met die oprdrag van Genesis roep tot ‘n eenvoudige lewe:
“Eenvoud kweek die wonderlike kuns om dinge te laat gaan.
Dit breek ons oordrewe gehegtheid aan dínge!
Eenvoud bring vryheid, en daarmee saam vrygewigheid.”
Ons moet regtig krities na onsself begin kyk.
In ons verbruikerskultuur wat so behep is met “beter”, “nuwer”, en “meer”,
het ons die Christelike dissipline van eenvoud dringend nodig!
Richard Foster, die Amerikaanse teoloog, sê dat Christelike eenvoud
ons bevry van die manie van “bymekaarmaak en inpalm”. Hy sê verder:
“Dit bring nugterheid na ons kompulsiewe buitensporigheid,
en gee ons waansinnige gees weer vrede”.
Ons verbruikerskultuur is inderdaad kompulsief,
buitensporig en ‘n waansinnige koop- en verbruikersgees.
Ons word, as kinders van die Here, hierin meegesleur!
Ons moet regtig innerlik fokus op ons verhouding met God.
Sy voorsiening. Sy sorg. Sý koninkryk!
Dit beteken, wat ons daaglikse lewe betref –
soos besittings, gewoontes, tydsbestuur, besteding, ja, selfs ons kos –
om eenvoudiger te leef, en om ons alleereers vir die koninkryk van God te beywer!
Matteus 6:33:
“Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God,
dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Hierdie oproep help ons om tevrede te wees met minder,
eerder as om na méér te smag!
Wanneer is méér, genóég?
Ernest