Dit is een van die eerste sondes.
Om skuld te verskuif.
“Blameshifting”, soos die Engels sê.
Adam was al die eerste een wat dit gedoen het.
Hy pak die skuld vir sy oortreding op Eva, én op God!
“Hierdie vrou wat U my gegee het, het my die vrug laat eet”
Die vrou wat “U my gegee het…”
Almal behalwe hyself dra die skuld!
Eva doen dieselfde.
“Nee”, keer sy, “dit is eintlik die sláng se skuld!”
En so skuif die skuld van die een na die ander.
Ons doen dit vandag nog.
Maak jou probleem iemand anders se verantwoordelikheid.
Hoekom doen ons dit?
Met die hoop om onaangename gevolge vry te spring?
Omdat ons te trots is om te erken dat ons verkeerd is?
Ongelukkig maak ons die probleem net groter en groter.
As ons sonde se DNS kon bepaal,
sou ons sien dat die grootste deel daarvan selfsug is!
Dat jy in jou verhoudings meer op jouself fokus as ander, of nét op jouself!
Jy veg bloot vir jou eie beskerming en jou eie saak.
Jou siening en jou saak is die belangrikste.
Dit vra volwassenheid én geestelike volwassenheid,
om te erken die probleem is by jouself.
Ons moet dapper genoeg wees om selfondersoek te doen.
Wanneer jy leer om jóú aandeel aan die probleem te erken,
kom jy op ‘n oorwinningspad!
Bely jy is verkeerd en aanvaar die vergifnis,
want ons moet mekaar ook vergewe!
Soos God ons vergewe, moet ons ook mekaar vergewe, na belydenis.
1 Johannes 1:8-9:
“As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself,
en is die waarheid nie in ons nie. As ons ons sondes bely,
God is getrou en regverdig, Hy vergeef ons ons sondes,
en reinig ons van alle ongeregtigheid.”
Bely en vergewe,
eerder as om te blameer, en die probléém te laat groei.
Groei self!...groei self, in belydenis en vergifnis!
Ernest