Hierdie vers vertel die grootste verhaal ooit.
Nie ‘n storie nie, maar ware gebeure wat die wêreld vandag nog omkeer.
Wanneer laas het jy stil geword en weereens nagedink oor hierdie vers?
In ‘n tyd van wisselvallige ekonomie, rassewrywing,
politieke spanning, en baie ander probleme,
kan ons nie anders as om opnuut oor die waarheid van Johannes 3:16 na te dink,
en dit uit te leef in die konteks waar ons vir die Here ‘n verskil moet maak nie.

Ons raak te maklik in ons moeilike omstandighede verstrengel.
Ons moet, onder leiding van die Heilige Gees, deur God se oë na die wêreld kyk.
Johannes 3:16 is God se liefdesverklaring aan die wêreld.
Maar dit is daarmee ook sy verklaring aan jou persoonlik!
Die Nuwe Lewende Vertaling sê dit so:
“God het die mensdom só liefgehad,
dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo,
nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

Die vers begin met die belangrikste van alle woorde: God.
God se Naam, beteken die Goeie Nuus begin by God se hart!
Sy hart het mense lief. Daarom is Hy ‘n genadige God!
Omdat Hy “die mensdom” liefhet,
is dit sy begeerte dat elke mens na Hom toe sal kom.

God is nie abstrak nie.
Hy is nie vér van jou af nie.
Hy is nie bloot ‘n gedagte nie.
Hy is ‘n persoonlike God!
En wát of Wié gee Hy?
Niks minder as Homself nie!
In Jesus gee Hy Homself vir jou!
Dit verander alles in jou lewe! Regtig!

Gaan leef 3:16 met jou hele lewe,
en keer die wêreld om vir die Here!

Ernest