Johannes 3:16 roep dit as’t ware uit!
Verlossing is beskikbaar!
Maar om net beïndruk te wees met die verlossing wat beskikbaar is,
gaan jou nie red nie.
Later in die Johannes evangelie is daar mense wat Jesus hoor,
en in Hom glo, maar hulle geloof is net tydelik.
Teen die einde van hoofstuk 8 wil hulle Hom selfs met klippe doodgooi!
In 8:31 waarsku Jesus dat sy volgelinge net sy dissipels kan bly,
wanneer hulle áánhou gló!
Jy sal begin om God se wil te doen.
En dan kan jy as dissipel met deernis en liefde in jou hart leef,
én dit aan ander uitdeel, met ‘n omgee wat aangee!
Wanneer die woorde van Johannes 3:16 waar is in jou lewe,
doen jy anders, dink jy anders, praat jy anders.
Gelowiges doen nie goeie dade,
of dink vroom konsepte uit, om hemel toe te gaan nie.
Nuwe denke en ‘n nuwe manier van leef, is deel van verlos wees!
Deurdat jy gered is, funksioneer jy op ‘n ander manier in die wêreld.
Dink net watter verskil Johannes 3:16 gaan maak,
as almal wat dit glo,
onthou dat hulle hier is om lewens te verander.
Jou eie lewe, én die van al die mense,
vir wie Johannes 3:16 uitnooi om ook te glo en te lééf!
“God het die wêreld só lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het,
sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie,
maar die ewige lewe sal hê.”
Ernest