Het ek die kerk nodig om te glo?
Ons hoor dikwels dat mense sê: “Ek het nie die kerk nodig om te glo nie”.
Of: “Ek het nie die kerk nodig om hemel toe te gaan nie”.
Mense kry ook seer in die kerk, deur medegelowiges, en dan besluit hulle:
“Ek is klaar met die kerk”.
Die belangrike is egter nie wat joú behoeftes rondom die kerk is, of nie is nie.
Die belangrike is wat God se doel met die kerk is, sý wil,
en hoe Hý wil hê jy betrokke moet wees.
In Hebreërs 10:24-25 sê die Woord:
“Laat ons ook na mekaar omsien,
deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.
Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly,
soos party se gewoonte is nie,
maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan…”
Dit is wat Gód se wil is!
Dit gaan oor God se wil ten opsigte van die kerk,
en sy doel met ons as déél daarvan.
Dit gaan nie oor ‘n bepaalde kerkverband nie.
Dit gaan wel oor óns, wat as kinders van die Here die kerk is,
en by mekaar betrokke moet wees.
“Laat ons ook na mekaar omsien,
deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.”
Die Drie-eenheid wys alreeds God se verhoudings-hart.
Vader, Seun en Gees in verhouding met mekaar. Dit is God in wese.
Verhoudings is vir God ontsettend belangrik.
Jesus kry die dissipels bymekaar in ‘n groep.
Hulle het “saam” geleef!
Hulle doen doodgewone dinge saam.
Eet saam, gesels saam, bid saam, loop saam,…
Hierdie samesyn maak hulle sterk.
Selfs wanneer Jesus in Getsemane gaan bid, neem Hy ‘n groepie saam.
Met al ons swakhede, vrese, en eie-ek-lewe, ons selfsug,
word ons genooi om deel te wees van die “liggaam van Christus”.
Nie net genooi nie… ons ís dit as gelowiges, per implikasie.
En die ledemate kan nie los van die liggaam bestaan nie.
Ons kan ook nie sê “ons het mekaar nie nodig nie”.
Dit is wat God se wil is. Dat ons die liggaam van Christus is.
En as gelowiges leef ons om God se wil te doen.
Nie ons eie wil nie, ook nie ten opsigte van “die kerk” nie.
Ons moet deel wees van ‘n geloofskring, ‘n geloofsgemeenskap.
“Laat ons na mekaar omsien,
deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.”
Dit doen ons in die geloofsgemeenskap.
Dit is wat God se wil is.
Mense saam met wie jy die geloofspad stap.
God wil hê ons moet “saam” aan die koninkryk van Gód bou,
nie ons eie koninkryke nie.
Ons moet saam gee, saam offer, saam voete was, saam werk.
En saam aanbid:
“Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly,
soos party se gewoonte is nie,
maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan…!” Vers 25.
Dít is….wat Gód se wil is!
Sý wil ! Nie mý wil nie….
Doen sý wil.
Ernest