Maak ons vuur of vrede met ons tong?
Jakobus sê ons moet stadig wees om te praat.
Dink eers mooi wat jy vir iemand gaan sê, of wat jy óór iemand gaan sê.
Jakobus 3:2 sê: “Ons struikel almal in baie opsigte.
As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak…”
Ons het die Heilige Gees nodig om ons te help om ons tong te beheer!
Selfbeheersing is juis deel van die vrug van die Gees! – Gal. 5:22-23.
Die grootste selfbeheersing wat ons nodig het, is om ons tong te beheer!
Vers 5 sê die tong is ‘n klein liggaamsdeeltjie,
wat ‘n groot vuur aan die brand steek. Die tong het groot mag.
Vers 8 sê geen mens kan die tong tem nie.
Net die Heilige Gees kan ons hiermee help!
Die hartseerste is wat is vers 9 staan:
“Met die tong loof ons die Here en Vader,
en met die tong vloek ons die mense wat na die beeld van God gemaak is.”

Ons sê dinge uit liefdeloosheid.
Ons is dikwels nie opreg in die manier waaroor ons oor iemand praat nie.
Ons maak praatjies met kwade bedoelings.
Ons gooi selfs ‘n Christelike sousie oor:
“Kom ons bid vir…..”, want sus of só….
Maar ons fokus meer op die probleem, as die persoon in nood.
Meer op “het jy gehoor…”, as op die opregtheid van gebed.
Calvyn het hieroor gesê dat mense vir hulself “naam” wil maak,
deur ander se naam te beswadder.
Spreuke 26:22 sê dat skinderpraatjies soos lekker kos is.
Mense sluk dit maklik.
Maak ons vuur of maak ons vrede?

Richard Foster sê die tong is soos ‘n termometer.
Dit help jou om jou geestelike temperatuur te meet.
Jou woorde en gedagtes sê wat in jou hart aangaan.
Wat jy vandag gaan sê,
kan ‘n verwoestende uitwerking op iemand se lewe hê.
Dit is soos ‘n sak vere wat jy in die wind uitgeskud het.
Jy kan die vere nie terugkry in die sak nie!

Vra die Heilige Gees opreg om jou te help, om jou tong te beheer.
Vra Hom om jou te wys op jou eie tekortkominge en sonde.
Bid opreg vir die mense oor wie jy geneig is om maklik te praat.
Vra die Heilige Gees om jou hart teenoor mense te verander,
al is hul dade onaanvaarbaar. Veroordeel die daad, nie die mens nie.
Kies om nie negatief teenoor, of ván mense te praat nie,
al verg dit regtig al jou selfbeheersing.
Die Heilige Gees sál jou help,
want selfbeheersing is deel van die vrug van die Gees!

Die Heilige Gees is ons Tongtemmer.
Leef onder beheer van die Heilige Gees!

Ernest