Efesiërs 5:15-16 en 18 en 20 stel dit baie treffend,
hoe die Gees ons lewe moet beheer:
“Wees baie versigtig hoe julle leef.
Leef soos mense wat weet wat God van ‘n sinvolle lewe verwag,
en nie soos mense wat niks daarvan weet nie.
Moenie tyd mors nie.
Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry,
want ons leef in moeilike en slegte tye.
Moenie te veel wyn drink nie,
want dan verloor ‘n mens beheer oor jouself.
Laat jou hele lewe eerder deur die Gees beheer word.
Moenie vergeet om altyd vir God, die Vader,
baie dankie te sê vir alles nie.
Doen dit omdat julle aan Jesus Christus behoort,
en Hy julle in staat gestel het om dit te doen.”

Paulus verduidelik hier die verskil tussen heiden byeenkomste,
en Christen byeenkomste van sy tyd.
Heidene het hulle gevul met te veel wyn!
Daarteenoor het Christene hul geluk gevind,
deur gevul te word met die Gees!

Die beroemde komponis, Johann Sebastian Bach,
het bo-aan sy manuskripte geskryf: “JJ”.
Dit het gestaan vir “Jesus Juva”.
Dit beteken: “Jesus help my”.
Aan die einde van sy manuskripte het Bach geskryf: “SDG”.
Dit het gestaan vir: “Soli Deo Gloria”.
Dit beteken: “Aan God alleen die eer”.
‘n Merkwaardige leefwyse.

Kom ons skryf bo-aan elke dag se bladsy van die lewe: “JJ”.
“Jesus help my”.
En onderaan elke bladsy van die lewe,
wat ons in genade kon leef: “SDG”.
“Aan God alleen die eer!”
So begin ons elke dag met ‘n gebed van afhanklikheid van God.
En ons gee elke dag aan God die eer dat ons dit vir Hom kon leef.

Laat jou lewe deur die Gees beheer word!

Ernest